Wat saakmaak, is hoe jou roomys proe terwyl jy hom eet.

“Ek is teleurgesteld. Bitter teleurgesteld...”

Ek moet eerlik wees: ek maak dalk of die lockdown my nie onderkry nie, maar tog het dit ‘n massive invloed op my. Ek is wel besig met ‘n klomp dinge, en het nie tyd vir ‘n ineenstorting nie, maar dié ding se effek op my is groot. Ek is teleurgesteld. Bitter teleurgesteld in die lewe.

“Skielik gaan alles stilstaan...”

Voor die lockdown was ons lewe nuut en op koers. Ons het spoed gehad. Ons het moed gehad. Nadat ons Paarl toe getrek het, het die wêreld ook vir ons kinders oopgebreek. Die nuwe moontlikhede, nuwe droompies en lekker dinge om te doen. Ons oudste gaan volgende jaar Gr. R toe, en sy was so opgewonde oor die feit dat sy grootskool toe gaan. Ek het net begin om vir my kinders te leer en te wys oor ‘n lewe van oorvloed (nie rykdom). Die wêreld waarin ons was, was die bewys dat mens opgewonde kan wees oor die toekoms.

”Ons drome te datums moet aanskuif.“

Toe kom die lockdown. Skielik gaan alles stilstaan. Ons droom nogsteeds, maar weet ons drome se datums moes alles tot verdere kennisgewing aanskuif - teen ons eie wil. Ons spoed is gebreek en ons moed is wisselvallig. Skielik lyk die wêreld besonders gebroke. Dit lyk of kinders grootword vir een groot niks. ‘n Wêreld waarvan die tydelikheid daarvan skielik baie tasbaar geword het. Ek is bekommerd: “hoe voel my kinders oor die wêreld waarvoor ek hul grootmaak?” Hulle is nog klein: “besef hul dat dié nie die norm is nie?”


“Roomys wysheid...”

Ons gaan koop toe maar roomys by die garage. Ons jongste kies ‘n waatlemoen roomys. By die huis gekom, maak ek hom vir haar oop. Die roomys lyk soos ‘n skuif waatlemoen, met pitte en al. Emily se gesig helder sprankelend op en sy gryp hom en gee een groot hap. Vir die lengte van die roomys is dít al waaroor sy droom en dink. Daarna is dit weer haar swart motorfietsie. Dan ‘n Barbie.


Ek is onrustig oor ‘n klomp dinge. Maar maak hulle werklik saak?

Wat saakmaak, is hoe jou roomys proe wanneer jy hom eet. Dis al!



43 views

© 2020 by DAVID MULLER | Sanger. Spreker. Vervaardiger.