Sit asb. tog die ligte om Jesus af!

Hierdie is 'n donker post - een wat effe kwaad is vir teologie.

Ek is op dié stadium "mentor" vir 'n vriend wat 'n teologiese kursus doen. Voordat hy take inhandig, stuur hy dit eers vir my dat ons bietjie saam kan gesels daaroor. Die eerste paragraaf is gewoonlik die vraagstuk, soos hy dit ontvang. Die probleem is dat ek die meeste kere nie verby dié vraag gelees kry nie. Die magtige en teologiese taal dryf my teen die mure uit. Dit klink verskriklik slim - amper alwetend in eie reg. Hierdie hogere taal en geselsies maak gevoelens in my wakker waarvan ek nie hou nie. Hierdie gevoelens was deel van my oortuiging om as dominee te bedank. Ja, ek was self ook maar soms die dominee wat oor mense se koppe gepraat het - tot ek myself begin irriteer het daarmee. Miskien is dit meer as irritasie. Miskien het ek ten midde van diep woorde, besonders vlak gevoel. Ek het in talle "baie-praat-niks-doen" vergaderings gesit. Reglemente. Artikels. Gravamens. Revisies. Mosies. Die hemel weet wat nog. Dit het my uitgedroog. Selfs die teologie, wat bedoel is om taal te gee waarmee ek Jesus meer lief kan hê, het my dreineer.


Ek is moeg vir alles wat "lig probeer werp".

Die taal, die plannetjies, die "hermeneutiek", dogmas en wat nog, probeer teater ondersoekligte om Jesus pak. Dit probeer die geloof bestudeer en die "konteks verstaan". Eerlik: ek is moeg vir alles wat "lig probeer werp".


Ek soek die eenvoud van die donker. Sit die fancy ligte rondom Jesus af, asseblief. Laat my toe om in die donker aan Hom te voel en Hom sommer maar net vas te hou.


VIDEO: My belydenis, hoe eenvoudig dit ook mag wees:



171 views

© 2020 by DAVID MULLER | Sanger. Spreker. Vervaardiger.