Aangrypende Nagmaal - Letterlik

Vanoggend preek ek in Marydale. Kinders hoort in die erediens, en vanoggend was dit dan ook so. Die twee Alberts sussies sit agter die rekenaar om die Power Point te doen en klein Mihan, redelik nuut op die voete, gee sy bes om los te breek uit die greep van orde wat sy ma en pa probeer handhaaf vanuit die agterbank. Die diens verloop soos beplan. Niks is vir my nuut of vreemd nie, want ek was goed voorbereid. Totdat ek, ewe statig en amptelik, my plek agter die nagmaaltafel inneem en die gekose kerkraadslede vorentoe beduie om stelling langs my in te neem… Die Alberts sussies se ma herinner die diaken met die brood van haar kroos agter die rekenaar en dié draai onmiddellik om en stap in hul rigting. En daar verras die Here my met ‘n preek van Sy eie. Net vir my. Die jonger sussie van die twee se oë val op die diaken wat in haar rigting aangestap kom – met ‘n silwer bordjie met broodjies daarop. Haar oë rek opgewonde groter en haar wenkbroue lig nuuskierig op. Die volgende oomblik trek die hoeke van haar mond in die mooiste glimlag en sy begin haar hand in die rigting van die naderende broodbord steek. En dan, teen alle vroomheid en gereformeerde heiligheid in, gryp sy die naaste broodjie stewig vas en vou dit in albei hande toe. Ek raak dadelik vuurwarm van ontsteltenis. ‘n Ontsteltenis wat jou grootmens-teologie aan die bors rondpluk en rooi hale op jou vroomheid laat. Ek was gewoond om die broodjie met gewyde erns te hanteer asof dit ‘n warm patat is, maar vanoggend sien ek hoe mooi dit is om dit met opgewondenheid en tande wat wys te gryp. Die brood is ‘n simbool van die Gebreekte Brood wat hang aan ‘n kruis – vol genade. Gryp dit. Omhels dit. Vou dit in jou hande toe. Eet dit.

Net nadat ek uit die beker van danksegging geskink het, hardloop Mihan van agter die kerkgebou tot heel voor die nagmaalstafel om te kyk wat ek doen. Dan gaan bekyk hy die houtkruis en die skildery teen die muur langs die kansel. Die volgende oomblik trek hy agter my aan die kanselkleed se tosseltjies en kom gee sy oupa, wat langs my sit, ‘n drukkie. Oupa tel hom op sy skoot. Met die beker wyn, as simbool van Jesus se bloed, daal ‘n vrede in my neer. “Jesus roep die kindertjies, moet hul nie verhinder nie.”

Vanaand moet ek erken: ” Here, u preek was meer geslaagd as myne. Sonder woorde het U my kom herinner dat God se kinders vrylik toegang het tot die genade wat lyf gekry het in Jesus Christus en dat ons dit gretig kan gryp.” Is dit nie maar hoe mens met presente maak nie?

4 views

© 2020 by DAVID MULLER | Sanger. Spreker. Vervaardiger.